Geen toekoms nie, net besluite

Daar is geen toekoms vir Afrikaners en Afrikaner entrepreneurs in Suid-Afrika wat aanloklik is nie, maar wel besluite wat die toekoms kan verander.

In 'n onlangse podcast onderhoud met Paul Maritz het ons gesels oor die gevaartekens in Suid-Afrika wat ons nie kan ignoreer nie, of jongmense nog universiteit toe moet gaan, of ons moet emmigreer en na watter helde ons nog na kan opkyk. (Luister hier na die podcast (23min): Podcast: Werkswêreld met Charl Oberholzer).

Ek besef wel dat daar meer vrae is as antwoorde - en dit is nodig om antwoorde vir onsself te formuleer. Jordan Peterson in sy boek 12 Rules of Life benadruk dat ons ons eie narratief moet skep, betekenis moet bou en 'n toekomstige outeur moet wees van ons lewens. So hier is vrae, in 'n Suid-Afrikaanse konteks, wat ons vir onsself moet antwoord:

Is daar 'n toekoms vir Afrikaners in Suid-Afrika?


'n Toekoms is buigbaar en lewendig, dit is nie 'n vasgestelde eindpunt nie. Die toekoms is 'n saamgestelde werklikheid van miljoene Afrikaners wat dieselfde vraag moet antwoord. Tot 'n mate is ons besluite ook interafhanklik van mekaar, want een entrepreneur wat besluit hy bly en bou in Suid-Afrika, het 'n direkte effek op sy 20 werknemers se toekoms en kultuurruimte. Vra eerder: Is ek bereid om verantwoordelikheid te neem vir die toekoms van Afrikaners in Suid-Afrika? Ons kies om in Suid-Afrika te bly, nie op grond van watter toekoms ander vir ons gaan vestig nie, maar op grond van die toekoms wat ons vir ander wil vestig.

Vir 'n detail argument oor waarom en hoe Afrikaners en Afrikaans se toekoms wel moontlik is, lees 'n vorige blog: Wat Pareto, Isreal en "Chicago Boys" te doen het met Afrikaans.

Moet ek emmigreer?


Ons moet besluite neem uit 'n plek van oorvloed en nie skaarsheid nie. Uit hoop en nie uit vrees nie. Daar is natuurlik goeie redes waarom sekere mense in hulle unieke omstandighede besluit om te emmigreer, maar ongelukkig is meeste antwoorde swak geformuleer en sonder beginsel geneem.

Geluk hang van verskeie faktore af, finansiële sekuriteit, gesondheid, huwelik, hegte verhoudinge met vriende en familie, gemeenskap, jou werk (roeping) en gevoel van vryheid. Emmigrasie moet nooit geoordeel word op grond van slegs een faktor nie. Jy kan maklik in Suid-Afrika bly en steeds finansieël emmigreer, jy kan ervaring gaan opdoen oorsee en weer terugkeer en jy kan ander meganismes in plek stel om werksekerheid of algehele veiligheid te vermeerder.

Maar die maklikste antwoord is: Maak dit altyd 'n geloofsbesluit. Werk so slim en hard asof alles van jouself afhang, maar vertrou asof alles van God afhang.

Kan Afrikaner entrepreneurs nog floreer?


Al die grafieke van ekonome, statistieke van StatistiekSA en ontledings van politieke ontleders wys op 'n afwaartse kurwe vir die toekoms van Suid-Afrika. So waarom kan ons nog floreer?

1. Daar is teveel maatskappye en entrepreneurs wat die teenkant bewys, wat juis floreer in moeiliker omstandighede en steeds reusagtige sukses-stories het.
2. Die toekoms is elasties, dit word daagliks beïnvloed deur ons elkeen se besluite.
3. Afrikaners het veel erger al deurgemaak. Die geskiedenis wys dat selfs die verskroeide aarde beleid, kolonisasie deur Brittanje en konsentrasiekampe nie kon verhoed dat 'n groepie mense aan die Suidpunt van Afrika hulle toekoms vestig nie. 

In onstuimige tye moet ons terugkeer na betroubare beginsels toe. Fillipense 3:12-14 is die vers wat die stigters van die Universiteit van Pretoria oorreed het om 'n universiteit in 1908 te begin, enkele jare na die Anglo-Boereoorlog.

Of ons halfhartig in SA bly, met positiewe realisme bly en bou of met hoop op groener gras emmigreer - is ons indiviuele besluite ons almal se toekoms.