Wat Pareto, Israel en "Chicago Boys" te doen het met Afrikaans

Chicago Boys - 1973
Internasionale moedertaaldag word elke jaar op 21 Februarie gevier ter herinnering van 5 studente wat in Dhaka in Bangladesh in 1952 hulle lewens in n optog verloor het. Pakistan is in 1947 gevorm met wat ons vandag ken as Bangladesh, aan die Ooste kant, en Pakistan aan die Weste kant, met Indië wat hulle skei. Die Pakistan-regering het die nasionale taal Urdu gemaak terwyl die meerderheid inwoners aan die Ooste gedeelte Bengali gepraat het. In die totale taalstad het byna 2000 mense hulle lewens vir hulle moedertaal verloor. Koffi Annan het die voorstel vir die Verenigde Nasies (VN) deurgestuur dat dié dag herdenk moet word, en na die aanvaarding van die mosie het die VN gesê: “Taal is die magtigste instrument vir die ontwikkeling van erfenis.”

Maar in teenstelling met die studente in Dhaka toe die taalstryd sy hoogtepunt bereik het, moet ons besef dat meeste van die dinge wat ons doen, geen verskil maak nie.

Die Pareto-beginsel

Vilfredo Pareto het iets daarvan verstaan. Hy is natuurlik die Italiaanse ekonoom wat in die vroëe 1920’s ’n bestuursbeginsel neergelê het wat tot vandag toe nog nie uit bestuurshandboeke geskryf is nie. Naamlik, die Pareto-beginsel. Dié beginsel meen dat 20% van ons aksies verantwoordelik is vir 80% van ons uitsette. Pareto het ook die 80/20 beginsel in Italië opgemerk, waar 20% van die burgers 80% van die grond besit het. En selfs in sy eie ertjie-oes het hy opgemerk dat 20% van sy ertjies verantwoordelik is vir 80% van die opbrengs. Selfs 20% van jou kliënte is tien teen verantwoordelik vir 80% van jou omset, 20% kriminele is verantwoordelik vir 80% van die misdaad en hoe jy 20% van jou tyd spandeer is verantwoordelik vir 80% van jou sukses.

Dit is ook waar wanneer dit by lande in 'n wêreld-konteks kom, ’n klein handjie vol lande is verantwoordelik vir 80% van die wêreld se vooruitgang. Israel is ’n goeie voorbeeld. Hulle het 0.2% van die wêreld se bevolking (daar is 100 lande wat groter is as Israel), hulle het min tot geen natuurlike hulpbronne, is omring deur vyande en hulle staat is maar 70 jaar oud. Maar:
  • Israel het die derde mees opgeleide bevolking ter wêreld, 
  • Israel is tweede wanneer dit by ruimtevaart-tegnologie kom, 
  • Israel het die tweede meeste Nobelrpys-wenners ter wêreld,
  • Israel is ook die enigste land wat ’n vergete taal in die 21ste eeu kon laat herleef,
  • Israel het meer patente geregistreer as Indië, Rusland en Sjina saam - wat 300 keer die bevolking van Israel het. 
  • Anders as enige ander land, leef 90% van die bevolking van sonpanele af en is Isreal die enigste land wat ’n netto groei in die aanplant van bome kan wys. 
  • Israel het selfs, relatief tot hulle bevolking, die meeste nuwe tegnologie maatskappye elke jaar.
Kan Afrikaanse entrepreneurs wees vir Suid-Afrika wat Israel vir die wêreld is?

Die "Chicago Boys"

Die Chicago Boys is nog ’n goeie voorbeeld van die Pareto-beginsel. Hulle was enkele ekonome wat meeste by die Universiteit van Chicago onder Milton Friedman gestudeer het, wat Chile toe is in 1973 om die regering van die tyd, ekonomiese advies te gee. In 10 - 15 jaar het hulle die grense van Chile oopgemaak vir handel, regeringsinstansies is geprivatiseer en regeringsfunksies gedesentraliseer. Volgens kenners het hulle in daardie tyd 4 miljoen mense uit armoede gelig. ’n Gemiddelde persoon het vir die eerste keer $12000 ’n jaar verdien, wat ver bo die res van Suid-Amerika was. Inkomste per capita het 5.5% per jaar gegroei en Chile is aan die voorpunt van die kontinent geplaas.

Kan Afrikaanse entrepreneurs vir Suid-Afrika wees, wat die Chicago Boys vir Chile was?

Afrikaans - wat het ons bereik?

Wel, bloot as jy Afrikaans kan praat is jy in goeie geselskap! 
  • Die eerste MBA-graad, naas Harvard Universiteit, was in Afrikaans by Tukkies aangebied.
  • Name soos Pieter de Villiers en Roelof Botha het permanent Sillicon Valley aan die gons.
  • Ons het ’n maatskappy begin wat die eerste keer steenkool in ’n vloeistof kon verander.
  • Die eerste hartoorplanting is in Afrikaans gedoen.
Daar is 20% van Afrikaanse entrepreneurs wat wel iets verstaan van om in goeie geselskap te wees. En daardie 20% is entrepreneurs met drie eienskappe:
  1. Hulle is ambassadeurs vir Afrikaans.
  2. Hulle doen "aantreklike" besigheid.
  3. Hulle is irriterend en aanhoudend genoeg.
Ambassadeurs vs. Emmigrante

Die verskil tussen ’n emmigrant en ’n ambassadeur is dat ’n emmigrant in die plaaslike bevolking assimileer, hulle waardes dikwels aanpas tot wat die status quo is en poog om permanente burgerskap te bekom deur ‘n nuwe identiteit te aanvaar. ’n Ambassadeur is iemand wat sy eie identiteit behou, sy eie waardes behou, ander aan sy kultuur wil blootstel en met diplomasie aanhou verhoudings bou. 

Afrikaanse entrepreneurs moet ambassadeurs wees. Afrikaanse entrepreneurs se waardes moet so herkenbaar wees dat mense na ons kyk en sê: Ek wil met ’n Afrikaanse entrepreneur besigheid doen.

Tweedens moet ons aantreklik wees. En hoe doen ons dit?
  • Deur eerlik besigheid te doen.
  • Ons moet onsself roem op ons werksetiek, wat ongeëwenaar is. En nie net in terme van die aantal ure wat ons in besighede sit nie, maar ook die tyd wat ons aan onsself spandeer. Jim Rohn het gesê “werk harder aan jouself as aan jou werk.
  • Ons moet ons waarde vind in iets groter as onsself. Nie in groot besighede, groot dinge of groot geboue nie…maar geanker wees in ’n groot God. In die geskiedenis leer ons dat wanneer mense iets oprig tot eer van hulself (soos met die Toring van Babel), eindig dit altyd in verwarring.

Afrikaans wees is ’n stel waardes wat deel van die DNA van jou besigheid moet wees. 

Derdens moet ons irriterend wees wanneer dit nodig is. Om ten spyte van diskrimenerende beleide sukses te behaal en ten spyte van restellende aksie uitnemend te wees. Selfs al is dit net om die owerheid te irriteer. Om irriterend te wees beteken om nie met die slagoffer mentaliteit saamgesleur te word nie. Om nie die baadjie aan te trek wat uitgedeel word nie. Irriterend wees, in die konteks van 'n waarde, beteken om nie die oortuigings wat ander van jou het bloot te aanvaar nie.

En daar is talle mense wat dit reeds regkry:
  1. Tjaart van der Walt, die HUB van Wildfig Capital - hy is non chalant oor die feit dat hy oor die 30 besighede al omgedraai het om ’n wins te wys. Groot name soos BHP Milliton, Exxaro, PWC, die grootste botteleringsaanleg in Suid-Afrika, Daimler Chrysler en Volkswagen. Hy is ook die een wat aan die hoof van sake was by Realnet toe hulle 26 franchises gehad het, en dit gegroei het to 94 voordat hy die maatskappy verkoop het. Dít is mos ’n Afrikaanse entrepreneur wat sy stempel afdruk.
  2. Francois van Niekerk, die Stigter van die Mergon groep. Hulle het reeds 200 maatskappye onder hulle dekmantel in 10 verskillende industrieë, insluitend King Price, die Atterbury Groep, Nilo (wat die grootste krokodilplaas in die Suidelike halfrond is), Bössi (wat deur Paul Venter in Amerika gedryf word waar hulle ’n rooibos tee handelsmerk op ’n massiewe skaal uitrol), Easygym in die Verenigde Koninkryk en een van hulle projekbestuurmaatskappye het letterlik die middestad van Edinburgh herbou. Die Mergon groep groei steeds met 49% per jaar en gee 80% van hulle winste vir Koningkrykswerk. Dit is mos iemand na wie mens kan kyk en sê: “ek wil met hóm besigheid doen.”
  3. Louis van der Watt van Atterbury is net so goeie voorbeeld. Hulle het ’n R12 miljard maatskappy gebou en is natuurlik bekend vir die bou van die Mall of Africa. Hulle het tot dusver 2 miljoen vierkant ’n meter se kommersiële spasie ontwikkel en begin ook nou in Oos-Europa uitbrei.
  4. Jannie Mouton het onlangs afgetree en is het die suksesvolle PSG gebou. Om ’n idee te gee van hoe suksesvol dié maatsakppy is, as jy 17 jaar terug R100 000 in PSG belê het sou jy vandag R136 miljoen onttrek het. Hulle het ook Capitec bank begin met Gerrie Fourie aan die helm. Dié bank is vanjaar vir die tweede jaar in ’n ry benoem is as die beste bank in die wêreld deur die Laffert Groep in die Verenegide Koninkryk.

Hierdie is entrepreneurs wat met trots help bou aan ’n stel herkenbare waardes wat met Afrikanerskap geassosieer word.

In die een hand moet ons ’n herkenbare stel waardes op ons mou dra sodat ons nie geleenthede of kliënte hoef te gaan soek nie, maar dit aantrek. En aan die ander hand moet ons fisies ook steeds in Afrikaans besigheid doen. 

Doen in Afrikaans besigheid, want...

Daar is steeds 7 miljoen Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, ’n derde van alle Suid-Afrikaners wat in die LSM groep 9-10 val praat Afrikaans en die Afrikaanse mark is verantwoordelik vir ’n vyfde (R376 miljard per jaar) van die totale spandering van Suid-Afrikaanse verbruikers. Verkoop jy motors? Wel ’n derde van motor verkope in 2015 was deur Afrikaanssprekendes. Verkoop jy annuïteite? Afrikaanssprekendes is vyf keer meer geneig om in die toekoms te belê as enige iemand anders. 

Dit is so dat meeste van die dinge wat ons doen geen verskil maak nie. Maar Afrikaanse entrepreneurs is die 20% wat die 80% verskil kan maak. As ons 20% van die tyd beter gefokus is, ons DNA met 20% aanpas en 20% van die tyd groter dink. Dan kan ons die 20% wees wat die gesig van Suid-Afrika, ons kultuur en taal vir altyd verander.

Toyota is onafskeidbaar Japanees, Singer is onbeskaamd Amerikaans en Volkswagen is deur en deur Duits. Is dit dan nie lekker om Afrikaans te wees nie...

(Toespraak tydens Tinteltong-toekennings)