100 blokkies 'n dag

My 100 blokkies per dag (buiten 8 ure se slaap)
As jou daaglikse lewe in 10-minute blokkies opgedeel sou word (nadat 8 ure slaap per nag afgetrek is) sal jy 100 blokkies (1000 minute) hê om te "spandeer". Ons verdediging vir waarom ons nie waardevolle projekte aanpak, verhoudings kweek of onsself ontwikkel nie is een van die volgende:
  • Ek is baie besig met werk, ek werk dikwels oortyd en kry nooit kans vir enige iets anders nie.
  • My vriende, afsprake of kinders hou my so besig dat ek nie kans kry vir enige iets anders nie.
Ek gee te kenne, mense is besig - en almal is nie ewe besig nie. Terselfdetyd, het Bill Gates, Elon Musk en Sarah Blakely (biljoenêr wat SPANX begin het, met 'n man en vier kinders) dieselfde 24 uur 'n dag as wat jy het. 

Die resultaat van hoe ons ons tyd spandeer, hang af van wat ons werklik prioritiseer.

Die volgende keer as jy 'n verskoning het oor waarom jy nie 'n mentor het, 'n familiebyeenkoms kan bywoon of nie kan oefen nie - sê: "dit is nie vir my 'n priotiteit nie". Want dit sal meer akkuraat wees as om bloot te sê "jy is te besig". 

Dit klink dikwels of "besig wees" die doelwit vir 'n suksesvolle lewe is. Want besig wees beteken mense het ons nodig, dit beteken ons kry erkenning en ons is onmisbaar by die werk. Is dit werklike sukses? Is sukses nie juis om nie orals hoef te wees nie? Om te kies watter projekte vir jou prioriteit is en 'n keuse te hê waaraan jy jou tyd wil spandeer nie?

Sukses is om jou eie lewe en verantwoordelikhede self te kan prioritiseer en te kan kies waaraan jy jou aandag wil skenk.

As jy nie intensioneel is oor waar jy jou tyd spandeer nie, gaan jy altyd vir mense sê jy voel "besig", jy gaan altyd goeie verskonings hê oor waarom jou gesondheid, familie, verhouding of selfontwikkeling nie 'n prioriteit kan wees nie.

Tim Urban het 'n goeie filosofie oor die 100 blokkies wat jy in 'n dag spandeer. Sukses is nie hoe jy oor 'n jaar of 'n dekade presteer nie, maar hoe jy daagliks nader aan jou doelwitte beweeg. Die oefening wat hy voorstel is dat jy 'n 100 blokkies inkleur volgens hoe jy jou tyd spandeer, en dit dan vergelyk met hoe jy eintlik jou tyd sou wou spandeer. 
  • Om 2 blokkies 'n dag aan lees te spandeer beteken jy kan 15 ekstra boeke 'n jaar lees.
  • Hoeveel blokkies in jou dag is jy bereid om aan vriende af te staan?
  • Hoeveel blokkies wil jy net oop los en oorlaat aan kans?
  • Hoeveel blokkies spandeer jy aan sosiale media?
  • Wat is daagliks vir jou 'n prioriteit en wat doen jy werklik met al jou blokkies?
Tyd is 'n kommoditeit, en soos ander beleggings kan jy in kommoditeite belê. Tyd word nie bestuur nie, tyd is elasties en dis buigbaar - maar jy moet kies waar jy jou belegging wil maak, want dit bepaal waar jy jou opbrensgte gaan kry.

Hulpbronne:


My 100 blokkies tydens grendeltyd