Bou só vertroue in die werksplek

Om werklik vertroue met jou kollegas, jou werknemers, jou kinders of vriende te bou moet ons eerstens verstaan wat in iemand se brein plaasvind wanneer hulle ons nie vertrou nie, en dan wat ons kan doen om vertroue te wen. Hoekom is vertroue belangrik? Verhoudings waar vertroue die vertrekpunt is stel bestuurders in staat om gemotiveerde werknemers te hê, ouers om beter verhoudings met hulle kinders te hê en maak van destruktiewe verhoudings konstruktiewe sukses stories.



Drie struikelblokke tot vertroue



Die brein prosesseer onbewustelik miljoene brokkies inligting op enige gegewe oomblik. Die brein kan egter net op vyf tot nege brokkies inligting bewustelik fokus, wat beteken dat meeste kommunikasie wat tussen mense plaasvind verlore gaan. Ander boodskappe word weer verdraai en veralgemeen op grond van ons eie vooropgestelde idees en lewensraamwerk. Dit is soos water wat deur 'n filtreersisteem loop, as die vuil water ingegooi word loop dit deur die klippies en sand (filters), wat maak dat die water wat onder uitkom, anders lyk. Ook so word boodskappe wat ons met mekaar deel, gefilter, voordat dit iemand se bewussein bereik. Wanneer ons met iemand 'n gesprek het, word inligting op drie wyses gefilter, naamlik:



  • Inligting word verwyder
Voorbeeld: Dink aan die laaste keer wanneer jy met jou man of vrou gepraat het en kon agterkom dat daar nie 'n woord ingeneem word nie. Volg die instruksies op die video hier onder om presies te ervaar hoe jou brein onbewustelik inligting kan verwyder:



  • Inligting word verdraai
Voorbeeld: Soos die Muller-Lyer illusie hier onder aandui kan ons onsself soms bedrieg deur te dink dat die onderste lyn langer is as die boonste een, terwyl hulle albei ewe lank is. So verdraai ons brein ook inligting wat ons hoor, byvoorbeeld as iemand raad gee en ons prosesseer dit as kritiek.
Muller-Lyer illusie
  • Inligting word veralgemeen
Verlagemening meen dat ons inligting in boksies plaas. Ons skep eienskappe van tipe mense, persoonlikhede, woorde of lyftaal. As ons kleuters is en leer om 'n deur oop te maak, veralgemeen ons daardie kennis en maak dit op toepassing van alle deure. Dit stel ons in staat om nie elke keer van voor af te moet leer nie. Die nadeel is egter dat ons dit ook doen met gesprekke, met stemtoon, met fisiese voorkoms of enige ander aspek - ons maak gevolgtrekkings sonder om werklik te luister.

Wat het hierdie drie verskynsels met vertroue in verhoudings te doen? As daar vertroue tussen twee mense is, is die kans minder dat hulle mekaar se boodskappe verwyder, verdraai of veralgemeen. Dit is waarom ons kritiek vanaf 'n beste vriend anders sal hanteer as van 'n vreemdeling af.

Hier is hoe jy daardie verhouding wat jou produktiwiteit, moeite, hartseer of geld kos, kan begin regruk:

Luister met empatie


Die eerste stap is om tyd te neem om na die ander persoon te luister. Vra soveel vrae as wat jy kan. Hoe meer opreg jou motief is, hoe meer opreg sal die ander persoon dit ook ervaar. 


  • Waardes en oortuigings
Waardes is hoe ons besluit tussen wat reg en verkeerd is. Wanneer ons idee van die wêreld met iemand anders se waardes verskil, vind konflik plaas. Waardes is die diep onbewustelike oortuiging wat ons het van wat vir ons belangrik is. Vir een persoon mag eerlikheid 'n absolute waarde wees, vir 'n ander nie. Vir een mag stiptelikheid, erkenning of deursigtigheid van groot belang wees, vir 'n ander kan pret en buigbaarheid eerder belangrik wees. Die geheim is om dieper te delf en uit te vind wat vir die ander persoon belangrik is. Om belang te stel in wat vir die ander een belangrik is, skep nie net 'n gevoel van geldigheid en menswaardigheid nie, maar ook 'n vetroue in mekaar se motiewe.

Oortuigings is die veralgemenings wat mense oor die wêreld het. Oor wat moontlik is en wat nie. 'n Persoon mag dalk by sy matriekafskeid 'n vernederende ervaring met dans gehad het, en daarna 'n oortuiging het dat hy/sy nie kan dans nie. Vorige ervaringe is dikwels verantwoordelik vir die oortuigings wat ons het en dit kan positief of negatief wees. Selfs al stem jy nie met iemand se oortuigings saam nie, moet mens dit eers verstaan. Want net in 'n vetrouensverhouding kan mense mekaar help om meer konstruktiewe oortuigings te skep.

  • Empatie
Empatie beteken om met opregte meegevoel, aktief te luister. Om empatie te hê moet ons seker maak dat ons nie self boodskappe verwyder, verdraai of veralgemeen volgens ons eie oortuigings nie. 


Praat dieselfde taal


Mense hou van mense wat soos hulle is. As jy wil deurdring tot iemand, moet jy op 'n opregte wyse omgee oor die wyse waarop hulle inligting wil ontvang. Ons almal doen dit reeds, as ons byvoorbeeld met kleuters praat, doen ons dit in 'n baba-stem. As ons met 'n bejaarde persoon gesels, praat ons stadig en ordentlik. So ook moet ons aanpas by die kommunikasiestyl van ons kollegas, vriende, werknemers en geliefdes. Waarom? Want om iemand op hulle gemak te plaas, is die begin van 'n vetrouensverhouding bou. Dit word só gedoen:

  • Styl
Almal kommunikeer anders. Die styl waarmee ons daagliks kommunikeer is dikwels 'n invloed van persoonlikheid, ons ouers of aanleg. Byvoorbeeld, praat jou werknemers in baie detail of is hulle "groot prentjie" mense, het hulle ander nodig om besluite te neem of oortuig hulle hulself, praat hulle in groot of klein brokkies inligting op 'n slag, hou hulle van struktuur of is hulle impulsief, is hulle afhanklik van terugvoer of nie en maak hulle besluite op grond van wat hulle daaruit kan kry of wat hulle daardeur kan vermy?

  • Liggaamstaal, woorde en stemtoon

Hoe meer ons by mense aanpas, hoe meer gemaklik is hulle. As jy iemand baie lank ken en 'n intieme verhouding met hulle het is julle tien teen een geneig om mekaar se sinne te kan klaarmaak, gebruik dieselfde woordeskat, trek soms dieselfde aan en deel dieselfde humorsin. Hoe sterker 'n vetrouensverhouding hoe meer tree mense dieselfde op. Betekenis in 'n boodskap of gesprek word 55% daarvan bepaal deur liggaamstaal, 38% deur ons stemtoon en slegs 7% die woorde wat ons gebruik. Daarom, as iemand hartseer is, sit ons langs hulle en buig ook ons rug en praat in dieselfde stemtoon as hulle om hulle gerus te stel en meegevoel te wys. So moet ons ook opgewonde wees as hulle opgewonde is, woorde gebruik wat hulle gebruik en wanneer nodig ons liggaamstaal by hulle aan te pas om meegevoel te skep. Ons moet iemand ander se wêreld eers ervaar voor ons wil hê hulle ons wêreld en oortuigings moet verstaan.

  • Sensoriese voorkeur
As ons aanpasbaar is met iemand se styl, ligaamstaal, woorde en stemtoon, kan ons ook oplet in watter sensoriese voorkeur hulle verkies om inligting te ontvang. Dit sluit in onder andere visueel, gehoor of gevoel. Sommige mense verkies om ingewikkelde opdragte in 'n vloeidiagram te sien, ander is gemaklik om dit oor die telefoon te hoor en ander sal dit net doen as die reg "voel". As jy weet wat jou werknemers se voorkeur is, kan jy seker maak jy kommunikeer met hulle in hulle voorkeur.

Vertroue bou is iets wat nie oppervlakkig gedoen kan word nie, maar met ware empatie en 'n gewilligheid om aan te pas. Die vrugte daarvan is 'n verhouding waar mense mekaar beter gaan verstaan, waar beide partye met mekaar kan deel sonder dat konflik ontstaan, dat beter kommunikasie lei tot meer produktiwiteit en 'n gesonder werksomgewing waar mense uiteindelik tuis voel.