6 Bronne van Invloed: Hoe leiers mense moet motiveer

Minder as een in agt maatskappye se "programme vir verandering" is suksesvol. Minder as 10% van ons wat probeer gewig verloor, binne ons begroting bly of slegte gewoontes afksud, kry dit reg. Twee derdes van misdadigers wat vrygelaat word uit "korrektiewe dienste" eindig weer binne drie jaar daar op. Geen wonder ons vat maar die raad van David Sedaris wat gesê het: "Ek het nie 'n idee hoe om mense te verander nie, maar ek hou steeds rekord van 'n lang lys voornemende kandidate net vir ingeval ek dit ooit regkry."

In die boek Influencer - the new science of leading change deur Kerry Patterson en Joseph Granny word daar verduidelik dat invloed in drie stappe uitgeoefen word, naamlik:


  1. Fokus en meet
  2. Identifiseer sleutel gedrag
  3. Aktiveer die 6 bronne van invloed
Leiers wat weet hoe om invloed uit te oefen is 100% seker oor wat hulle wil verander, wat hulle daardeur wil bereik en het 'n manier ingedagte oor hoe hulle dit kan meet. Dan kyk hulle na twee of drie sleutel gedragspatrone wat verander moet word om die uitkoms te kry wat hulle soek. Sodra hulle dit weet, kry hulle sisteme in plek om deurentyd dié 6 bronne van invloed te aktiveer:





  

1.  Persoonlike Motivering


  "Harde werk betaal in die toekoms af, luiheid dadelik"

Die eerste bron van invloed wat aktiveer moet word is om mense te kry om te doen wat dalk nie aangenaam is om te doen nie. Byvoorbeeld, as iemand 'n HIV-program ontwikkel om mense te beïnvloed om nie in kontak te kom met die virus nie, moet hulle mense oorreed om korttermyn of onmiddelike plesier te verruil vir 'n langtermyn motivering. So hoe doen mens dit? Só:

  • Laat toe vir keuse
Dis in die mens se natuur om hulle eie wil te volg. 'n "Ja" beteken niks as jy nie die opsie het om "nee" te sê nie. Die geheim is om werklik uit te vind wat mense se motiverings is vir waarom hulle doen wat hulle doen, en hulle dan met empatie te kan konfronteer deur vir hulle 'n keuse te gee tussen twee gedragspatrone. Met ander woorde, luister  met meegevoel na die persoon en plaas dan die verantwoordelikheid op hulle om die besluit te maak. Alkoholisme, rook, dwelms en eetsverslawings word oorkom met 'n tegniek naamlik motiveringsonderhoude, waar dieper motiverings ontdek word en hulle dan hulle eie gevolgtrekkings kan maak oor die waardes waarvolgens hulle wil lewe.

  • Skep 'n direkte ervaring
Help mense om kennis te maak met die direkte gevolge van keuses sodat hulle die morele waarde van sleutel gedragspatrone kan sien. Skep persoonlike assosiasies, om byvoorbeeld iemand wat 'n dwlemverslaafde was nuwe ervaringe te gee van "plesier" sonder dwlems, soos stokperdjies of om 'n musiekvertoning te gaan kyk. Of om mediese sisters aan 'n pasiënt voor te stel wie se lewe gered is as gevolg van die flukse optrede van een van die sisters.

  • Vertel betekenisvolle stories
Wanneer dit nie moontlik is om direkte ervaringe te skep nie, vertel stories. Lees e-posse van gelukkige kliënte vir jou werknemers, 'n Radio-sepie in Tanzania wat die storie van 'n HIV-positiewe man, wat baie drink en sy vrou mishandel, op so wyse vertel dat die gevolge duidelik is, het mense wat daarna luister se gedrag totaa en al verander. 'n Kwart van die bevolking wat daarna geluister het het begin huweliksberading doen, het stappe geneem om getrou te wees aan hulle geliefdes en beskerming gebruik om HIV te vermy.

  • Maak dit 'n speletjie
Om telling te hou, gesonde kompetisie te skep, aanhoudende verbetering te meet en al die uitkomste in die beheer van die deelnemers te plaas, help werknemers om dit meer te geniet, te voel dat hulle verbeter en konstant te strewe na iets beters.

Persoonlike motivering het te doen met die vraag: "Het ek die regte motivering om dit te doen?"


2.  Persoonlike Vermoeë


Behalwe om die motivering te hê om 'n doel te bereik of om gedrag te verander, moet jy ook seker maak die persoon is in staat daartoe. Iemand wat die motivering het om gewig te verloor maar nie oor die kennis beskik om slim eetgewoontes te vestig nie, gaan moedeloos word. Dit gebeur dikwels dat werknemers sekere gedragspatrone volg, nie uit 'n gebrek aan 'n motivering om dit anders te doen nie, maar dikwels omdat hulle eenvoudig net nie weet hoe nie. Stel dit só reg:

  • Doelbewuste oefening
Dring aan op kort intervalle van absolute fokus. Om hard te konsentreer vir 'n uur of minder en doelbewus 'n nuwe vaardigheid te leer waar die persoon presies weet wat hy/sy doen, wat nie werk nie en hoekom dit wat gedoen moet word, noodsaaklik is.

  • Onmiddelike terugvoer teen 'n duidelike standaard
Die aantal ure wat spandeer word om 'n persoon se vermoeë te bou is veel minder belangrik as om gedurige en duidelike terugvoer te kry. Dink aan iemand wat leer gholf speel, as 'n afrigter na elke hou verduidelik hoe die hou verbeter kan word, is die kurwe van leer veel vinniger as iemand wat alleen vir twee maal so lank staan en balle slaan. Verder, moet daar sonder enige twyfel 'n duidelike standaard wees waarvolgens die persoon sy vermoee kan meet.

  • Berei voor vir terugslae
'n Kort geskiedenis van agtereenvolgende suksesse kan valse verwagtinge skep oor hoeveel moeite nodig is. Mense moet leer om terugslae te hanteer. Dit is leiers se werk om terugslae te definieer as "waardevolle terugvoer" eerder as "onnodige struikelblokke".

Persoonlike vermoeë  vra die vraag: "Is ek in staat om dit te doen, of kort ek meer inligting?"


3.  Sosiale Motivering


Geen bron van invloed is so sterk soos ons sosiale netwerke nie. Gedrag word verander deur die erkenning, aanvaarding, goedkeuring, afkeur of verwerping van ons vriende of kollegas. Om sosiale motivering te aktiveer as bron van invloed moet ons die regte mense kry om positiewe gedrag aan te spoor. Die regte mense is die mense wat sosiale aanhang en vertroue van ander het. Om self sosiale invloed te bou moet leiers opofferings maak in vier areas, naamlik:

  • Tyd
Voorbeeld: Om in 'n krisistyd persoonlike besoeke by werknemers se huise af te lê en tyd af te staan aan elkeen wat negatief geaffekteer is.

  • Geld
Voorbeeld: Hertz, 'n motor verhuringsmaatskappy, het na die 9/11-bomontploffing hulle motors gratis beskikbaar gestel vir mense wat by hulle familie wou uitkom. Hulle het geld opgeoffer wanneer ander dinge belangriker was.

  • Ego
Voorbeeld: Erken wanneer jy 'n fout gemaak het en vra vergifnis. Dit bou vertroue en skep 'n kultuur waar dit aanvaarbaar is om oop en eerlik te wees.

  • Vorige prioriteite
Voorbeeld: Die HOB van Lockheed Martin Aeronautics het 'n terugvoer-vergadering met sy 13 000 werknemers geprioritiseer voor 'n afspraak met 'n prins wat 'n F-16 vliegtuig wou bestel. Omdat die HOB die prins 'n oomblik laat wag het, het werknemers (wat voorheen afgeskeep gevoel het) gevoel dat hulle die waardevolste komponent is van die besigheid.


Sosiale motivering is om die vraag te beantwoord: "Waarom moet ander my volg?".


4. Sosiale Vermoeë 


Om sosiale vermoeë te skep beteken om mense te kry om mekaar aan te moedig. 'n Voorbeeld hiervan is Dr. Yunus, nobelpryswenner, wat dit reggekry het om krediet te gee aan die armstes van Bangladesh  se bevolking. Hy het boonop reggekry dat 98% van hulle tenvolle die geld met rente terugbetaal. Hoe het hy dit reggekry? Deur mense spanne te laat vorm waar hulle gesamentlik aanspreeklik is vir mekaar se skuld. Deur dit te doen stel hulle mekaar in staat om betalings te maak en die krediet op 'n wyse manier te spandeer. Groepe is slimmer as 'n enkele individu. As iemand gewig wil verloor help dit nie altyd om net gemotiveerd te wees, die regte oefenprogram te hê en mense te kry om jou te ondersteun nie. Die volgende stap sal wees om jou vrou te oortuig om nie meer sjokolade te koop en self ongesond te eet nie. Of jou vriende vra om nie meer elke week jou na 'n restaurant toe te nooi nie. Ongeag ons beste intensies is dit moeilik om gedrag te verander as die mense om ons ons in die versoeking lei. Daarom, ook in maatskappye, moet groepsdruk gebruik word om positiewe gedragspatrone te vestig: 

  • Interafhanklikheid
Afdelings moet afhanklik wees van mekaar om hulle doelwitte te bereik. Dit kweek indirek 'n help-mekaar kultuur.

  • Sinergie
Spanne moet forseer word om interaktief met mekaar te wees sodat sinergie kan ontstaan. Beter idees kom na vore wanneer spanne gereelde dinkskrums hou teenoor 'n individu wat 'n besluit uit sy eie moet maak.

  • Verantwoordelikheid
Maak werknemers verantwoordelik vir mekaar se gedrag. Stel elkeen wat reeds bietjie kennis opgedoen het van die maatskappye se waardes, aan om iemand anders daarvan te leer. Hoe meer verantwoordelik elkeen vir iemand anders se gedrag voel, hoe meer sal almal volgens daardie waardes wil werk.

  • Solidariteit
Kry almal se inkoop. As ouers in solidariteit vir hulle kinders "nee" sê, is dit veel meer effektief as wat ouers verskil. Begin 'n veldtog van solidariteit om mense te kry om as 'n groep in 'n idee in te koop, dit maak die teenstand teen die versoeking om daarvan af te wyk soveel moeiliker.

Vraag: "Hoe kan ek groepsdruk gebruik om 'n positiewe verskil te maak?"


5. Strukturele Motivering


Ons beweeg nou weg van die menslike faktor van invloed na fisiese dinge wat as bron van invloed kan dien. Dit sluit bonusse, salarisse en voordele in. Sulke eksterne motiverings moet nooit aangewend word tensy Persoonlike Motivering en Sosiale Motivering reeds toegepas word nie. Wanneer mense hulle gedrag moet aanpas suiwer vir eksterne voordele, verloor hulle enige interne motivering om te presteer in die afwesigheid daarvan. Met eksterne motivering, hou die volgende ingedagte:

  • Beloon gedrag en nie net resultate nie
Beloon klein veranderinge in gedrag en nie net die eindresultaat nie. As jy dit met jou kleuter doen terwyl hulle leer om te loop kan jy dit met jou werknemers ook doen. Die proses is net so belangrik soos die suksesvolle uitkoms.

  • Beloon die korrekte gedrag
Maak seker jy vier die regte oorwinnings. Dit help nie jy vier dat produksie verdubbel het terwyl die kwaliteit dalk verswak het nie. Een doelstelling het dikwels 'n indirekte effek wat negatief kan wees. Identifiseer enkele sleutel, kern gedragspatrone en beloon daarvolgens. Talle belonings motiveer eintlik die teenoorgestelde gedrag. As jy byvoorbeeld jou kinders leer om nie dwelms te gebruik nie, maar wanneer hulle dit wel doen beloon jy hulle met gratis verblyf, gratis verbruik van 'n motor en sakgeld, is jy besig om die verkeerde bedrag te beloon. Indirek motiveer jy dan 'n gedrag wat jy nie veronderstel is om te beloon nie.

  • Gebruik straf as 'n laaste alternatief
As geen beloning werk nie, gebruik dan eers negatiewe motivering. Jy kan eers die "boog in die pyl en boog span" voor jy vuur. 'n Streng waarskuwing wat die implikasie van aksies duidelik uiteen sit kan dan gevolg word met die implementering van 'n straf indien die persoon steeds nie aan verwagtinge voldoen nie.


6.  Strukturele Vermoeë


As ons 'n probleem sien dink ons dikwels net aan hoe ons die persoon kan verander, eerder as om die fisiese omgewing te verander. Kelners en kokke het vir dekades op mekaar geskree oor bestellings wat verkeerd uit die kombuis kom totdat Dr. Wyat voorgestel het dat 'n klein staalpennetjie gebruik word om bestelstrokies op in te steek sodat kokke op 'n eerste-in eerste-uit basis bestellings kan voorberei. Moenie verbaas wees as jou werknemers nie maklik hulle kommernisse met jou deel as hulle eers by 'n 20 meter gang moet afloop (vol skilderye van jou in 'n swart pak) om by jou uit te kom nie. 

Positiewe gedrag moet maklik gemaak word. As jy in die oggende wil oefen, moet jy vêr ry of na 'n geïsoleerde kamer in jou huis stap en eers al jou oefenmasjiene uitpak voor jy kan begin? Die afstand wat sjokolade van jou af weggebêre is kan jou kans om dit te eet verdubbel of halfeer. Mense eet meer as hulle groter borde gebruik om in op te skep en dobbelhuise het lae plafonne in die dobbelarea en hoë plafonne elders, vir 'n rede. Strukturele vermoeë is om mense se gedrag te beïnvloed deur middel van hulle omgewing te verander. As departemente in jou maatskappy in silos funksioneer, kyk na hoe moeilik die spasie dit maak om saam te werk.

Vraag: "Watter fisiese aspekte van my omgewing vermoeilik positiewe gewoontes?"

Die kern van invloed uitoefen is om te weet wat jou motiveer, is jy in staat om dit te doen, kan ander jou voorbeeld volg, stel ander jou in staat om dit te doen, weet jy watter gedrag beloon word en stel jou omgewing jou in staat om makliker slim besluite te neem.