Die nommer een aanduier van 'n huwelik wat hou

Die nommer een aanduier van 'n huwelik wat gaan hou, is - hoe goed julle met mekaar kan baklei. Navorsers kan redelik akkuraat voorspel watter huwelike die toets van tyd gaan deurstaan en wie 'n ernstige speek in die wiel gaan kry halfpad deur. Ons vermoeë om konflik te hanteer het 'n drastiese effek op die gesondheid van ons huwelik.



Hoe ontstaan konflik?


Konflik ontstaan wanneer twee mense se waardes en oortuigings van mekaar verskil. Waardes is die dinge van die lewe wat ons glo "reg" of verkeerd" is. Vir een persoon mag stiptelikheid 'n waarde wees en enige iemand anders wat nie stiptelik is nie, is dan 'n luiaard wat geen respek het vir ander se tyd nie. Vir jou man mag dit 'n waarde wees om tyd saam familie te spandeer terwyl jy familie ag as iets wat mens net met verjaarsdae en Kersfees hoef te sien. Aan die ander kant is oortuigings die reëls wat ons opmaak oor die wêreld, ongeag of hulle waar is of nie. Met ander woorde, jy mag 'n oortuiging hê dat jy nie kan dans nie weens 'n onsmaaklike ervaring by jou matriekafskeid, waar jy daar en dan besluit het "ek is nie 'n danser nie". Jou huweliksmaat mag oortuigings hê oor hulle selfbeeld, hulle vermoeëns of tot wat hulle in staat is ongeag of dit werklik so is. Konflik ontstaan wanneer ons oortuigings of waardes met die van die ander persoon bots.

Hoe moet konflik hanteer word?


Die belangrikste aspek van konflik is: Opregte empatie. Die boek "The 3rd Alternative" vanStephen Covey verduidelik dat daar vier stappe is wat lei na sinergie, naamlik:
  1. Vrae vra
  2. Definieer die oorsprong
  3. Skep 'n nuwe basis
  4. Behaal 'n ooreenkoms
Covey verduidelik in diepte hoe om konflikte tussen tieners en ouers, huweliksmaats of kollegas uit te sorteer met absolute empatie en volgens die beginsel van "verstaan eers voordat jy wil hê iemand jou moet verstaan".

In "Crucial conversations" van Joseph Grenny verduidelik hulle dat die volgende stappe gevolg moet word:

  1. Vrae - nooi die persoon uit om hulle gedagtes te deel
  2. Spieëlbeeld - "Jy sê X, maar jou liggaamstaal sê Y". Hou 'n spieël op en probeer uitbeeld hoe jy hulle emosies verstaan.
  3. Herhaal - sê wat die ander persoon sê maar net in jou eie woorde.
  4. Raai - As dit steeds nie werk nie, probeer jou vinger plaas op wat werklik die oorsaak mag wees.
  5. Maak dit veilig - Vrae onverskoning, bou 'n gemeenskaplike doel of gee die probleem 'n ander konteks
  6. Vertel dan eers jou storie - Stel die feite, dan jou gevolgtrekkings en vra dan weer vrae.
Konflikhantering is iets wat jy nie net kan veg of vlug nie, maar waar jy tegnieke moet leer sodat jou repertoire van baklei kan uitbrei. As jy heeltyd baklei op dieselfde manier, gaan jy heeltyd dieselfde resultate kry.