5 Lesse vir meer geluk


Shawn Achor, 'n dosent aan die Harvard Universiteit en wenner van 'n reeks toekennings oor sy bevindings in die veld van sielkunde, het die boek "The happiness advantage" geskryf. In verskeie onderhoude wat met hom gevoer is beskryf hy waarom "positiewe denke" nie net eenvoudig 'n ongegronde, impulsiewe aanmaning van jou ouers is wat net moeg is vir jou negatiwiteit nie. Maar, dat werknemers se geluksvlak 'n wesenlike effek het op maatskappye se sukses, winste, verhoudings en kultuur. Hier is 'n opsomming vanuit onderskeie onderhoude met Achor:


Plesier vs Geluk


Plesier word beskryf as iets wat onmiddelike verligting, vervulling en plesier gee. Soos om 'n roomys of 'n sjokolade te eet. Geluk is egter iets anders, geluk is blywend en nie net 'n oombliklike ervaring nie. Jy kan geluk ervaar terwyl jy iets doen wat nie noodwnedig veel plesier verskaf nie, byvoorbeeld om te draf en steeds gelukkig is omrede jy nader aan jou doelstelling beweeg. Geluk is volhoubaar en vind plaas oor 'n geruime tyd.

Les: Verruil korttermyn plesier vir blywende geluk.


90% van jou geluk is onvoorspelbaar


Volgens Shawn Achor kan sielkundiges net 10% van ons geluk voorspel deur na eksterne faktore soos rykdom, aantreklikheid, invloedryke ouers, 'n mooi motor of enige iets anders wat tradisioneel gesien word as die omvang van ons geluk, te kyk. Die oorblywende 90% is onbekend, dit word opgemaak deur hoe jy dink oor jou omstandighede. Daar is gevind dat boere in Zimbabwe, wat soms in wreedaardige en vreesaanjaaende omstandighede leef, se geluksvlak hoër is as proffesionele bankiere in Switzerland. Bankiere verval in 'n depressie as hulle nie bonusse kry nie maar vir een of ander rede is baie Zimbabwiese boere steeds gelukkig. Wat was die verskil? Dít:
  • Hoe jy oor jou eie omstandighede dink
  • Hoe jy oor jou familie dink
  • Optimisme (dinge sal beter gaan as ek aanhou probeer)
  • Sosiale konneksies (boere wat n vrees leef het dikwels sterker sosiale kringe omdat hulle afhanklik is van mekaar)
  • Die vyf mense met wie jy die meeste van jou tyd spandeer bepaal jou gemoedstoestand
Sosiale konneksies is so belangrik dat dit selfs 'n beter voorspeller is van hoe lank jy gaan lewe as faktore soos rook of vetsug. Inteendeel, navorsing wys dat sterk sosiale konneksies (ondersteuningsnetwerk) vetsug laat afneem en mense laat ophou rook.

Les: Bou volhoubare, positiewe sosiale kringe

Geluk eerste, dan geld


Die grootste kompeterende voordeel in besigheid is 'n positiewe en betrokke brein. Wanneer jou brein blywende geluk ervaar en ingestel is op die betekenis wat jy toevoeg, gebeur die volgende:
  • Produktiewe energie styg met 31%
  • Sowat 37% meer suksesvol met verkope
  • Jou kans vir 'n verhoging styg met 40%
  • Jou vlak van kreatiwiteit vertrippel
Les: Help jou werknemers om bewus te wees van die groter betekenis in hulle werk, want geluk kweek produktiwiteit.

Is geluk gekweek of oorerflik?


Baie glo dat gene 'n groot rol speel in jou vermoeë om meer positief te wees. Alhoewel dit 'n rol kan speel, is die werklikheid dat talle eksperimente al bewys het dat jou vermoeë om meer optimisties te wees deur eenvoudige gewoontes verander kan word. Met een eksperiment is 4-jariges geleer om elke oggend aan 4 dinge te dink waarvoor hulle dankbaar is. Dit het 21 dae gevat voor hulle brein ge-reprogrammeer is om 'n optimistiese inklinasie te hê tot gebeure rondom hulle.

Les: Geluk word gekweek, nie geërf nie. 


Ontwerp jou dag


Die geheim is daarom om beheer te hê oor wat met jou brein gebeur. As geluk en optimisme gekweek of geleer kan word, dan moet ons die inhoud wat ons daagliks inneem op so wyse beheer dat ons nie al meer negatief raak oor ons omstandighede nie. Dit beteken egter nie om alle negatiewe nuus te ignoreer nie, aangesien mens steeds bewus moet wees van die werklikheid. Ons ingesteldheid moet van so aard wees dat selfs slegte nuus nie deurlopend negatiewe gevolge op ons produktiwiteit, gemoedstoestand en verhoudinge het nie. Achor verduidelik dat mense wat slegs 3 minute se negatiewe nuus in die oggend luister, 6-8 ure later steeds aandui dat hulle 'n negatiewe dag beleef. As jy eerste ding in die oggend jou gedagtes anker op dit waarvoor jy dankbaar is teenoor 'n negatiewe nuusbulletin, skep jou brein 'n lens waardeur jy die res van die dag alles anders gaan beoordeel.

Nog 'n voorbeeld is waar mense blootgestel is aan positiewe idees en toe gevra is om 'n koerant deur te blaai en die aantal prente te tel, en as hulle reg is kry hulle $5. Op bladsy 2 van die koerant is 'n groot advertensie wat sê as jy nou die eksperiment stop, kry jy $10. Sowat 80% van mense het $10 verdien. Met mense wat blootgestel is aan negatiewe idees voor die eksperiment, het net sowat 20% die advertensie op bladsy 2 raakgesien. Dit beteken dat 'n positiewe ingesteldheid meer geneig is om ons geleenthede te laat raaksien.

Les: Geluk is de grootste voorspeller van sukses